Liewe
Frikkie,
Hoe gaan
dit met jou, met my gaan dit goed. Hier is dit warm en die reen is maar skaars, maar ons kla nie.
Kan jy
enigiets van jou een Oumagrootjie aan jou ma se kant onthou? Julle het net net bymekaar
verbygeskuur in die voor portaal van die lewe; jy oppad in, sy uit. Vra 'n
bietjie vir jou ouers - ek is seker hulle het foto's van julle twee saam. Ek
weet sy het jou kuiertjies baie geniet; oftewel jy nou op haar skoot
gesit het of aan haar rolstoel 'gewerk' het.
Maar daar
is baie wat die foto's jou nie kan vertel nie. En ek weet ook nie naastenby alles
nie, maar ek kan jou van my onthou vertel.
Haar
ouers en direkte familie is maar ou name in 'n stowwerige bybel se omslag. Sy
moes ook eens jonk gewees het, drome gehad het, foute gemaak het... ek neem so
aan. In my onthou is sy vasgevang in haar netjiese pastel-rokke, bypassende
plastiek krale en aanknip-oorbelle. Sagte grys krul-kapsel en donker oë gevou
in lag plooitjies. Sy het haar man op 61 verloor, en self gelewe tot 100.
Maar dis
net informasie, dis nie weet nie. Wat ek weet is dat sy een van die
braafste vroue in my lewe was, en dat dit my lank gevat het om dit te besef.
Toe die lewe ons noord laat trek en sy agterbly in die Kaap, het ek gewonder
hoe ons kontak sou hou. In die tagtiger jare het ek gedink vliegtuie was
maar eintlik net vir besigheids manne en ryk families. Dit was lank voor die
aanlyn-boek van kaartjies en vinnige plesier besoekies aan die uithoeke van die
land. Maar sowaar, toe sluit jou Oumagrootjie ook aan by daai hogere groep. Dit
klink nie na baie in vandag se tye nie, maar vir iemand wat gebore is toe die
eerste wêreld oorlog nog aan die gang was, en nog voor Afrikaans as 'n taal
erken is, lank voor kits-enigietse daar was, dink ek dit was ongelooflike groot
stap.
Ek onthou
hoe daar in die kombuis gewerskaf is met haar kuiertjies. Vroeg oggend (en vir
'n tiener is dit enigiets voor 8 op 'n saterdag oggend), was sy al aan die werk
- ek onthou hoe ek wakker geword het met die reuk van vars gebakte koekies wat
uit die kombuis stroom. Dit was soos kersfees! Gemmerkoekies, soet
koekies, krokodil-ruggie koekies en beskuit - warm uit die pan en geurig soos
niks op aarde.
En speel!
Onthou dit Frikkie - moet nooit ophou nie, watter ouderdom jy ook al is. Toe sy
kon het sy altyd plat op die vloer kom sit by ons kinders, en het ons al die kaart speletjies van
rummy tot sewetjies geleer speel. Sy kon hekel, brei en het wonderwerke met
naald en garing verrig wat die ergste skeur in jou hemp laat verdwyn het.
Sy het
briewe geskryf! Regte egte briewe, Frikkie, op dun wit lyntjies papier, sinne in
haar eie hand geskryf. Ek mis dit in die nou-tye... die feit dat iemand
tyd afgestaan het om met die hand vir jou te skryf van hulle doen en late, oor
hoe hulle aan jou dink en wonder wat jy doen. Dit is soliede brokkies tyd wat
hulle spesiaal aan jou afgestaan het, die bewyse vasgevang op papier.
Dis dalk
wat ek dalk eintlik vir jou wil vertel - sy het ook vir jou omgegee.
Van jou
oogpunt af is sy dalk net 'n beeld in 'n ou foto of 'n vae silhouette uit jou
verlede; maar sy het jou geken, en sy was lief vir jou. Alhoewel sy nie meer
hier is nie, is die afdruk van haar lewe nog in en deur ons in jou lewe.
Vra 'n bietjie vir jou ma oor die blokkies wat sy hekel, vra jou ouma oor waar
sy haar beskuit resepte gekry het, vra jou oupa oor hoe hy raas gekry het oor
die kattekwaad wat hy aangejaag het... vra! En leer.
En onthou.
Liefdegroete
Tannie
Sannie

No comments:
Post a Comment