Sunday 20 January 2019

Onthou om te onthou, en vergeet om te vergeet



Liewe Frikkie

Ja, die titel van die briefie klink dalk snaaks. Gaan lees gerus op oor die woorde - dis lirieke van een van jou Tannie Sannie se gunsteling sangeresse: Laurika Rauch. Luister gerus na haar liedjies wanneer jy ouer en wyser is - met tyd sal sekere dinge meer sin maak.

Want met tyd gaan dinge beslis verander, en tyd selfs is nie vasgemaak nie. Jy sal die ouer mense dit nog baie hoor sê: tyd vlieg. En tyd kruip. Dit hang gewoonlik af van die situasie waarin jy jouself bevind. As Einstein nog 'n bietjie gewerk het aan al sy teorie, sou hy dit kon bewys dat dit nie net gravitasie en spoed is wat tyd beinvloed nie.  Maar dis nie waaroor ek wou skryf nie.

Wat of waar ook al in die lewe jy jouself bevind, moet nooit ophou speel nie.  

Sien, hoe ouer jy word, hoe dommer word jou brein in sekere opsigte. Ek kan onthou hoe ek as kind vir ure en ure kon speel met 'n kombers fort en 'n paar moerbei latte. Maar vra my nou wat ons gespeel het? Ek kan glad nie onthou nie – nie die wat of die hoe nie. Dit is asof daar 'n geslote deur in die huis van my geheue is, en ek kan nie eers onthou hoe die sleutel gelyk het nie.  

So luister asseblief na jou tannie: moet nooi ophou speel nie. Jou verbeelding is een van die mees kosbaarste skatte in hierdie wereld. Die speletjies wat jy uitdink en die stories wat jy vertel is soos vensters waardeur ons ou jaloerses inkyk op die mees fantastiese wêrelde van jou skepping. 'n Plek waar enigiets nog moontlik is, en die enigste perke jou verbeelding is. Waar die geringste denne pit 'n persoonlikheid groei, en vele avonture saam met jou geniet in blokkie-helikopters en see-skulpe.

So skiet jou wortels diep na goeie siele water; en soos loot in die natuur, beur deur enige mensgemaakte versperrings met geduld en krag. Lig jou kop hoog en strek uit na die son, die maan en die sterre. En Droom! En vertel jou stories!

Tannie Laurika het juistement gesing in Kinders van die Wind oor "En waarheen daardie woorde is sou net 'n kind kon raai." So onthou om te onthou, en vergeet om te vergeet hoe om te speel.

Liefde groete
Tannie Sannie

Monday 20 April 2015

Liewe Frikkie (1)



Liewe Frikkie,

Hoe gaan dit met jou, met my gaan dit goed. Hier is dit warm en die reen is maar skaars, maar ons kla nie.

Kan jy enigiets van jou een Oumagrootjie aan jou ma se kant onthou? Julle het net net bymekaar verbygeskuur in die voor portaal van die lewe; jy oppad in, sy uit. Vra 'n bietjie vir jou ouers - ek is seker hulle het foto's van julle twee saam. Ek weet sy het jou kuiertjies baie geniet; oftewel jy  nou op haar skoot gesit het of aan haar rolstoel 'gewerk' het.

Maar daar is baie wat die foto's jou nie kan vertel nie. En ek weet ook nie naastenby alles nie, maar ek kan jou van my onthou vertel.

Haar ouers en direkte familie is maar ou name in 'n stowwerige bybel se omslag. Sy moes ook eens jonk gewees het, drome gehad het, foute gemaak het... ek neem so aan. In my onthou is sy vasgevang in haar netjiese pastel-rokke, bypassende plastiek krale en aanknip-oorbelle. Sagte grys krul-kapsel en donker oë gevou in lag plooitjies. Sy het haar man op 61 verloor, en self gelewe tot 100.

Maar dis net informasie, dis nie weet nie. Wat ek weet is dat sy een van die braafste vroue in my lewe was, en dat dit my lank gevat het om dit te besef. Toe die lewe ons noord laat trek en sy agterbly in die Kaap, het ek gewonder hoe ons kontak sou hou. In die tagtiger jare het ek gedink vliegtuie was  maar eintlik net vir besigheids manne en ryk families. Dit was lank voor die aanlyn-boek van kaartjies en vinnige plesier besoekies aan die uithoeke van die land. Maar sowaar, toe sluit jou Oumagrootjie ook aan by daai hogere groep. Dit klink nie na baie in vandag se tye nie, maar vir iemand wat gebore is toe die eerste wêreld oorlog nog aan die gang was, en nog voor Afrikaans as 'n taal erken is, lank voor kits-enigietse daar was, dink ek dit was ongelooflike groot stap.

Ek onthou hoe daar in die kombuis gewerskaf is met haar kuiertjies. Vroeg oggend (en vir 'n tiener is dit enigiets voor 8 op 'n saterdag oggend), was sy al aan die werk - ek onthou hoe ek wakker geword het met die reuk van vars gebakte koekies wat uit die kombuis stroom.  Dit was soos kersfees! Gemmerkoekies, soet koekies, krokodil-ruggie koekies en beskuit - warm uit die pan en geurig soos niks op aarde. 

En speel! Onthou dit Frikkie - moet nooit ophou nie, watter ouderdom jy ook al is. Toe sy kon het sy altyd plat op die vloer kom sit by ons kinders, en het ons al die kaart speletjies van rummy tot sewetjies geleer speel. Sy kon hekel, brei en het wonderwerke met naald en garing verrig wat die ergste skeur in jou hemp laat verdwyn het.

Sy het briewe geskryf! Regte egte briewe, Frikkie, op dun wit lyntjies papier, sinne in haar eie hand geskryf.  Ek mis dit in die nou-tye... die feit dat iemand tyd afgestaan het om met die hand vir jou te skryf van hulle doen en late, oor hoe hulle aan jou dink en wonder wat jy doen. Dit is soliede brokkies tyd wat hulle spesiaal aan jou afgestaan het, die bewyse vasgevang op papier.

Dis dalk wat ek dalk eintlik vir jou wil vertel - sy het ook vir jou omgegee.
Van jou oogpunt af is sy dalk net 'n beeld in 'n ou foto of 'n vae silhouette uit jou verlede; maar sy het jou geken, en sy was lief vir jou. Alhoewel sy nie meer hier is nie, is die afdruk van haar lewe nog in en deur ons in jou lewe.  Vra 'n bietjie vir jou ma oor die blokkies wat sy hekel, vra jou ouma oor waar sy haar beskuit resepte gekry het, vra jou oupa oor hoe hy raas gekry het oor die kattekwaad wat hy aangejaag het... vra! En leer.
En onthou.

Liefdegroete
Tannie Sannie